Hugo Maurice Julien Claus (Nederlands:ˈɦyɣoː ˈklʌu̯s; 5 April 1929 – 19 Maart 2008) was 'n toonaangewende Vlaamse skrywer wat onder sy eie naam gepubliseer het sowel as onder verskeie skuilname. Claus se literêre bydrae deurkruis die genres van drama, die roman, en ook poësie. Hy het ook 'n beduidende erfenis gelaat as 'n skilder en rolprentregisseur. Hy het meestal in Nederlands geskryf. Sy dood by wyse van eutanasie, welke wettig is in België , het tot aansienlike konsternasie gelei.
Hugo Claus is op 5 April 1929 in Sint-Janshospitaal in Brugge, België gebore.[1] Hy was die oudste van vier seuns van wie die vader Jozef Claus was en die moeder Germaine Vanderlinden. Jozef het gewerk as 'n drukker, maar was ook gaande oor teater.[2]
Hugo het skoolgegaan aan 'n kosskool en die Duitse okkupasie van België tydens die Tweede Wêreldoorlog meegemaak. Die ondervinding sou 'n formatiewe rol speel in Claus se ontwikkeling, en sou later deur Claus aangepas word tot sy semi-outobiografiese roman Het verdriet van België.[3][4] Baie van Claus se onderwysers was deel van die Vlaamse Beweging, die groep nasionaliste wat simpatiekgesind was tot fascisme, en Claus het aangesluit by die pro-Duitse jeugvlerk van die Vlaamse Nasionale Unie. Sy vader was ook vlugtig aangehou na die bevryding van België op aanklagte dat hy saamgewerk het met die Spilmoondhede teen die Geallieerdes.[2] Claus was op 'n meer gevorderde stadium van sy lewe simpatiekgesind teenoor die linkses. Claus sou na bewering in 1960's die sosialistiese model lof toeswaai na 'n besoek aan Kuba.[2]
Die begin van Claus se aansien in letterkundige kringe, en sy buiging as 'n romansier, het in 1950 op die ouderdom van een-en-twintig plaasgevind met die publikasie van De Metsiers. Sy eerste gepubliseerde gedigte was eintlik reeds in 1947 deur sy vader gedruk.[5] Hy het van 1950 tot 1952 in Parys gewoon waar hy baie lede van die CoBrA-kunsbeweging ontmoet het.[6]
Van 1953 tot die begin van 1955 het Hugo Claus in Italië gewoon waar sy vriendin Elly Overzier (gebore in 1928) gespeel het in 'n paar rolprente. Hulle is getroud op 26 Mei 1955. Hul seun Thomas is op 7 Oktober 1963 gebore. In die vroeë 1970's het Claus 'n verhouding gehad met die aktrise Sylvia Kristel, wat 23 jaar jonger as hy was, en saam met wie hy in 1975 'n seun genaamd Arthur gehad het. Die verhouding het egter geëindig in 1977 toe Kristel vir Claus gelos het vir die akteur Ian McShane.[7]
Hugo Claus is beskou as een van die belangrikste kontemporêre Vlaamse skrywers.[8][9][10] Claus het die roman Schola Nostra (1971) onder die skuilnaam Dorothea Van Male gepubliseer. Hy het ook die skuilname Jan Hyoens en Thea Streiner gebruik. Die 1962 roman De verwondering en 1983 se Het verdriet van België is van Claus se belangrikste werke as romansier.[11] Lee beskou Het verdriet van België as 'n postmodernistiese kritiek van nasionale identiteit.[12]
Hy het egter die meeste werke gelewer in sy literêre hoedanigheid as dramaturg. Claus het 35 oorspronklike stukke en 31 vertalings van Engelse, Griekse, Latynse, Franse en Spaanse toneelstukke en romans geskryf. Sy dramatiese skets Masscheroen is aanvanklik opgevoer by die Knokke Casino.[13] Die werk is aangeval as godslasterlik en as nadelig vir die publiek se morele welstand. Die opvoering van die toneelstuk het 'n regsaak tot gevolg gehad waarin Claus vervolg en skuldig bevind is aan klagte van openbare onsedelikheid. Claus is beveel om 'n boete van tienduisend Belgiese franc te betaal en om tronkstraf van vier maande uit te dien.[1][2][13] Die vonnis is later versag tot 'n opgeskorte vonnis na 'n suksesvolle openbare mosie.[2]
Claus het ook die draaiboek van 'n satiriese strokiesverhaal, "De Avonturen van Belgman" in 1967 geskryf. Die strokiesverhaal is geteken deur die kunstenaar Hugoké (Hugo de Kempeneer).[14]
Hugo Claus se naam is verskeie kere genoem in verband met die Nobelprys vir Letterkunde, waarop hy terloops en ongeërg kommentaar gelewer het: "hierdie prysgeld sal my welgeval".[15]
As 'n skilder was Claus vanaf 1950 'n deelnemer aan die CoBrA kunsbeweging. Hy het vriendskappe ontwikkel met sommige van die beweging se lede, en het in 1949 'n boek deur Pierre Alechinsky geïllustreer.[16] Hy het met sleutelfigure saamgewerk in die beweging, insluitende Karel Appel en Guillaume Cornelis van Beverloo[17] en deelgeneem aan sommige uitstallings.[16] Hy het later sy ondervindinge van die tydperk gebruik in sy boek Een zachte vernieling.[18]
Claus was tussen 1964 en 2001 die regisseur van sewe rolprente. Sy rolprent Het sacrament is gewys in die Un Certain Regard-afdeling tydens die 1990 Cannes Filmfees.[19]
Claus het gelei aan Alzheimersiekte en versoek dat sy lewe deur eutanasie beëindig word. (welke 'n wettige prosedure in België is) Hy het op 19 Maart 2008 in Middelheim Hospitaal in Antwerpen gesterf.[20]
Bert Anciaux, die destydse Vlaamse Minister van Kultuur,[21] het gekonstateer; "Ek het hom goed genoeg geken om te weet dat hy met trots en waardigheid wou heengaan."[22] Die voormalige Belgiese eerste minister, Guy Verhofstadt het gesê dat hy hom kon verbeel dat die aanvang van Alzheimer se siekte "onvermydelike en onuitstaanbare marteling" veroorsaak het. "Ek kan saamlewe met die feit dat hy dus so besluit het" het hy gesê, "want hy het ons verlaat as 'n groot gloeiende ster, net betyds, net voordat hy sou verval het in 'n gravitasiekolk."[7]
Sy dood deur genadedood het kritiek van die Rooms Katolieke Kerk en die Belgiese Alzheimer Liga ontvang.[23] Die Rooms Katolieke Kerk het die mediadekking gekritiseer en die Belgiese kardinaal Godfried Danneels het verwys na Claus se genadedood in sy Paasfees boodskap.[24] Die Belgiese Alzheimer Liga respekteer Claus se besluit, maar glo dat die mediadekking van sy dood veel te wense oorlaat, omrede dit ander opsies vir Alzheimer pasiënte verwaarloos.
Claus het meer as 'n duisend bladsye poësie, meer as sestig toneelstukke, meer as twintig romans, rolprentdraaiboeke, librettos en vertalings geskryf.