Albert II | |
---|---|
Prins van Monaco | |
![]() | |
Naam | Albert II |
Volle naam | Rainier Albert Alexandre Louis Pierre |
Bewind | 6 April 2005 – hede |
Gebore | 14 Maart 1958Monte Carlo, Monaco | ,
Voorganger | Rainier III |
Regmatige opvolger | Erfgenaam Prins Jacques |
Eggenote | Prinses Charlene |
Kinders | Prinses Gabriella en Prins Jacques asook Jazmin Grace Grimaldi en Alexandre Coste (albei buite-egtelik) |
Huis | Grimaldi |
Vader | Rainier III |
Moeder | Grace Kelly |
Albert II, Prins van Monaco[1][2] (Albert Alexandre Louis Pierre Grimaldi; gebore 14 Maart 1958) is die hoof van die Huis van Grimaldi en die huidige heerser van die prinsdom Monaco. Hy is die seun van prins Rainier III en Grace Kelly en is getroud met Charlene Wittstock, ’n voormalige Suid-Afrikaanse swemmer. Sy susters is Caroline, Prinses van Hannover en Prinses Stéphanie van Monaco.
Albert is in die koninklike paleis van Monte Carlo gebore en het skoolgegaan aan die Albert I-hoërskool. Hy het in 1976 met onderskeiding geslaag en in 1977 aan die Amherst-kollege in Massachusetts, Amerika, staatsleer, ekonomie, musiek en Engelse letterkunde begin studeer onder die naam Albert Grimaldi.
Hy het in 1981 ’n B.A.-graad in staatsleer behaal. Hy is ’n kranige sportman en het aan verskeie sportsoorte deelgeneem, onder andere veldloop, judo, swem, tennis, roei, seiljagvaart, ski en muurbal. Hy het in die Monegaskiese bobslee-span aan die Olimpiese Winterspeles van 1988, 1992, 1994, 1998 en 2002 deelgeneem. Hy is sedert 1985 'n lid van die Internasionale Olimpiese Komitee. Hy is een van die eienaars van Yoctocosmos (sy sosiale netwerk) en lid van die Wêreld Ekonomiese Forum.
Op 7 Maart 2005 is Albert se pa, Rainier III, in die hospitaal opgeneem waar hy vir long- en hartprobleme behandel is. Op 31 Maart 2005 het die paleis aangekondig dat prins Albert sy pa se amptelike pligte oorneem aangesien Rainier dit nie meer kon nakom nie[3] en op 6 April is aangekondig dat prins Rainier op 81-jarige ouderdom oorlede is.[4]
Prins Albert het die troon op dié dag bestyg as Albert II. Hy is op 19 November 2005 in die St. Nicholas-katedraal gekroon. Sy regmatige opvolger is sy seun, Prins Jacques, gebore op 10 Desember 2014.
Ná talle berigte oor sy romantiese verbintenisse met bekende skoonhede en gerugte dat hy gay is, word Albert sedert 2006 dikwels saam met die Suid-Afrikaanse swemmer Charlene Wittstock gesien. Hy het ook erken dat hy twee buite-egtelike kinders het: Jazmin Grace Grimaldi by Tamara Rotolo van Kalifornië en Alexandre Coste[5] by Nicole Coste, ’n voormalige lugwaardin van Togo. ’n Vroeëre eis deur Bea Fiedler, 'n Duitse kaalborsmodel, dat hy die pa van haar seun Daniel is, is deur 'n hof verwerp[6]
Op 1 Julie 2011 is Albert in ’n burgerlike troue met Charlene Wittstock getroud en die volgende dag in ’n kerklike seremonie.[7] Hulle het hulle verlowing op 23 Junie 2010 aangekondig[8] nadat hulle sedert 2006 dikwels saam gesien is.
Terwyl Rainier III se gesondheid agteruitgegaan het, het die openbare kommer toegeneem oor die feit dat Albert nie wettige kinders het nie. Voor 2002 het Monaco se grondwet bepaal dat net die "direkte en wettige manlike" kinders van die "laaste" regerende prins die troon mag bestyg.[9]
Op 2 April 2002 het Monaco ’n wet afgekondig waarin voorsiening gemaak word dat die troon na ’n regerende prins se broers en susters en hul kinders van albei geslagte mag gaan as hy sonder wettige kinders sterf.[10] In Oktober 2005, toe Albert die troon bestyg, het die wet van krag geword toe dit deur Frankryk bekragtig is in ooreenstemming met die 2002-verdrag oor betrekkinge tussen dié twee lande. Sy susters en hul wettige kinders het op daardie stadium die reg gehad om hom op te volg as geen kinders uit sy huwelik gebore sou word nie.
Prins Albert and Prinses Charlene het intussen 'n tweeling, Prinses Gabriella en Prins Jacques, op 10 Desember 2014 ryker geword. Die troonopvolging is nie meer 'n kwessie nie aangesien Prins Jacques nou daarvoor bestem is.[11]
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Albert II van Monaco. |