Marnus Labuschagne | ||||||
---|---|---|---|---|---|---|
Marnus Labuschagne tydens die 2019-As | ||||||
Volle naam | Marnus Labuschagne | |||||
Gebore | 22 Junie 1994 Klerksdorp, Noordwes, Suid-Afrika | |||||
Kolfstyl | Regshandig | |||||
Boulstyl | Regterarm bybreek | |||||
Rol | Veelsydig | |||||
Internasionale geskiedenis | ||||||
Nasionale span | Australië | |||||
Toetsdebuut (no 455) | 7 Oktober 2018 v Pakistan | |||||
Laaste Toets | 15 Januarie 2021 v Indië | |||||
EDI debuut (no 229) | 14 Januarie 2020 v Indië | |||||
Laaste EDI | 2 Desember 2020 v Indië | |||||
Eersterangse spaninligting | ||||||
Jaar(e) | Span | |||||
2014/15–hede | Queensland | |||||
2016/17–hede | Brisbane Heat | |||||
2019–hede | Glamorgan | |||||
Loopbaanstatistiek | ||||||
Kompetisie | Toetse | EDI | 1e rang | A-lys | ||
Wedstryde | 18 | 13 | 83 | 46 | ||
Lopies aangeteken | 1885 | 473 | 6248 | 1646 | ||
Kolfgemiddeld | 60.80 | 39.41 | 44.31 | 38.27 | ||
100s/50s | 5/10 | 1/3 | 16/34 | 2/14 | ||
Hoogste telling | 215 | 108 | 215 | 135 | ||
Aflewerings geboul | 822 | 24 | 4083 | 474 | ||
Paaltjies | 12 | 0 | 59 | 8 | ||
Boulgemiddeld | 41.66 | – | 43.96 | 62.12 | ||
5 paaltjies in 'n kolfbeurt | 0 | – | 0 | 0 | ||
10 paaltjies in 'n wedstryd | 0 | – | 0 | 0 | ||
Beste boulontleding | 3/45 | – | 3/45 | 3/46 | ||
Vangskote/Stonkings | 15/– | 4/0 | 79/– | 16/– | ||
Bron: Cricinfo, 19 Januarie 2021 |
Marnus Labuschagne (gebore 22 Junie 1994) is 'n Suid-Afrikaans-gebore internasionale krieketspeler wat vir die Australiese krieketspan speel.[1] Op plaaslike vlak speel hy vir Queensland. Hy speel ook tans eersterangse krieket in die Engelse graafskapsreeks vir Glamorgan en in die Big Bash League vir Brisbane Heat.
In Augustus 2019 word Labuschagne die eerste krieketspeler wat as plaasvervanger opgebring word vanweë 'n harsingskuddingbesering, toe hy vir Steve Smith vervang.[2] Labuschagne was in 2019 die voorste toetskolwer wat aantal lopies betref. Tydens die jaar behaal hy die vierde plek in die Internasionale Krieketraad (IKR) se ranglys vir toetskolwers, 'n verbetering van 106 plekke op sy vorige posisie.[3] In Januarie 2020 is Labuschagne deur die IKR vereer as die Opkomende Krieketspeler van die Jaar,[4] in Februarie as Australië se toetsspeler van die jaar,[5][6] en in April as een van die vyf Krieketspelers van die Jaar deur Wisden Cricketers' Almanack.[7][8]
Op 15 Januarie 2021 behaal Labuschagne die 5de toetshonderdtal van sy loopbaan in die vierde en beslissende toets teen Indië op die Gabba in Brisbane en oortref daarmee die legendariese Donald Bradman se rekord vir die meeste toetslopies in sy eerste drie beurte op die Gabba, met 374 lopies teenoor Bradman se 326 lopies.[9]
Labuschagne is gebore in Klerksdorp in 'n Afrikanerhuishouding. Sy gesin emigreer in 2004 na Australië toe hy 10 jaar oud is, nadat sy vader 'n pos verkry het in die mynindustrie. Labuschagne woon Brisbane State High School by. Hy het grootgeword in 'n Afrikaanse huishouding, en slegs vlot geraak in Engels nadat sy gesin na Australië verhuis het.[10][11]
Labuschagne is 'n regshandige kolwer en het vir Queensland gespeel op onder-12-, onder-15-, onder-17-, en onder-19 vlak, en die span gelei tydens die 2012–13 Nasionale Kampioenskap.[12][13] In die Brisbanse Grade Cricket speel hy vir Easts-Redlands District Cricket Club.[14] Hy het in 2013 klubkrieket vir Plymouth gespeel in die Devon Premier League, en in 2014 vir Sandwich Town Cricket Club in die Kent Premier League, waar hy vir beide spanne presteer het.[15][16]
Nadat Labuschagne net een keer vir Queensland Academy gespeel het, maak hy sy eersterangse krieketdebuut in die eerste ronde van die 2014–15 Sheffield Shield-seisoen teen Suid-Australië op die Adelaide-ovaal. Hy het die kolfbeurt geopen saam met Joe Burns, en 83 lopies in Queensland se eerste beurt aangeteken, met 'n vennootskap van 99 lopies om die vierde paaltjie saam met Nick Stevens.[17] Later in die 2014–2015 seisoen is Labuschagne as plaasvervanger vir die Australiese nasionale krieketspan ingespan tydens die tweede toets teen Indie op die Gabba, waartydens hy 'n lae vangkans op kortbeen benut het.
Labuschagne het in Oktober 2015 sy A-lys debuut vir Queensland gemaak in die 2015–2016 Matador BBQs Eendagbeker en sy eerste eersterangse honderdtal in die daaropvolgende maand geslaan met 112 lopies in sy agtste Sheffield Shield-wedstryd. Hy het 273 lopies aangeteken teen 'n kolfgemiddeld van 45 tydens die 2016–2017 seisoen van die Matador BBQs Eendagbeker, en is aangewys as speler van die toernooi.
In September 2017, tydens 'n JLT Eendagbeker-wedstryd tussen Queensland en die elftal van Krieket Australië, word hy die eerste veldwerker om gestraf te word op grond van die pas bekendgestelde krieketwet wat ontwerp is om te verhoed dat veldwerkers kolwers mislei. Labuschagne het geduik om 'n bal aan te keer, en alhoewel hy nie die bal kon keer nie, het hy gemaak asof hy die bal na die paaltjiewagter gooi. Sy span is met vyf lopies gestraf.[18][19]
Nadat hy Queensland se voorste lopiemaker was tydens die 2017–2018 Sheffield Shield-seisoen, het Krieket Australië hom aangewys in hul Sheffield Shield- span van die seisoen.[20]
Labuschagne het in April 2019 aangesluit by Glamorgan County Cricket Club vir die 2019 seisoen van Engelse krieket.[21] Hy het 1,114 lopies aangeteken in sy eerste County Championship-seisoen, insluitende drie honderdtalle in sy eerste vier eersterangse wedstryde – waarvan een sy beste aangetekende kolftotaal van 182 was teen Sussex, in 'n rekord vennootskap van 291 lopies om die tweede paaltjie vir Glamorgan.[22] Hy het die tweede meeste lopies aangeteken in die Tweede Divisie van die graafskapsreeks, ten spyte daarvan dat hy slegs in tien wedstryde gespeel het. Hy het opgeëindig met 'n kolfgemiddeld van 61.89 lopies per kolfbeurt, en daardeur sodoende Glamorgan se beste lopiegemiddeld behaal.[23][24] Hy het ook 19 paaltjies geneem met 'n boulgemiddeld van 38.11.[25] In November 2019 het hy sy kontrak hernu met Glamorgan. Hy sal vir die volgende twee seisoene vir die span speel, na sy verbluffende spel in die 2019 Reeks om die As.[26]
In Junie 2020 is Labuschagne se kontrak vir 'n verdere seisoen verleng as gevolg van die ontwrigting van die 2020 seisoen wat teweeggebring is deur die korona griepvirus.[27]
In September 2018 word hy as deel van Australië se groep van toetsspelers aangewys vir hul reeks teen Pakistan.[28][29]Hy maak sy toetsdebuut vir Australië teen Pakistan op 7 Oktober 2018.[1][30]
Hy is in Desember 2018 in Australiese se eendaggroep aangewys voor die span se toer na Indië die volgende jaar, voordat hy op verrassende wyse by die Australië se toetsgroep gevoeg is vir die vierde toetswedstryd teen die Indiërs aan die begin van die jaar. Hy is gekies om op nommer drie te kolf, 'n besluit wat destyds "hewig gekritiseer" is.[3][31][32] Hy het 38 lopies in sy enigste beurt aangeteken en is behou in die span vir die twee toetse teen Sri Lanka aan die einde van die somer.[33]
Nadat hy 'n goeie vroeë seisoen gehad het vir Glamorgan in die Engelse graafskapsreeks,[34] is hy aangewys as deel van Australië se span vir die Reeks om die As in Engeland.[35][36] Op 18 Augustus 2019 vervang Labuschagne Steve Smith op dag vyf van die tweede toets, nadat Smith die vorige dag harsingskudding opdoen[37] – en word sodoende die eerste speler om 'n ander speler te vervang vanweë 'n harsingskuddingbesering in 'n toetswedstryd, na 'n wysiging aan die regulasies van die IKR.[38] Hy teken 59 lopies aan, die hoogste in Australië se tweede beurt, en is gekies vir die derde toets in Smith se afwesigheid, met die hoogste lopietelling in albei Australiese beurte, waartydens hy gekolf het in 'n styl wat beskryf is as "buitengewoon deftige, dapper en intelligente kolfwerk ".[39] Nadat Engeland in hul eerste beurt vir 67 uitgeboul is, het Labuschagne die vyfde kolwer in toetsgeskiedenis geword wat twee lopietellings in 'n wedstryd behaal het wat hoër was as die totaal wat die opponerende span in enige van hul beurte behaal het.[40]
Labuschagne het sy plek in die Australiese span behou vir die besoek aan Pakistan die volgende somer, waar hy 185 lopies by die Gabba aangeteken het, sy eerste toetshonderdtal.[41]Hy behaal nog 'n honderdtal in die tweede toets [42] en 'n derde toetshonderdtal teen Nieu-Seeland. Nadat hy drie agtereenvolgende honderdtalle aangeteken het, het hy 50-talle in sy volgende twee kolfbeurte gemaak, voordat hy 2020 stormgeloop het met sy eerste dubbele honderdtal in die derde toets teen Nieu-Seeland by die SCG, met 215 lopies.[43] Hy was 2019 se hoogste lopiemaker in toetswedstryde, nadat hy 975 van sy 1,104 toetslopies in die jaar gemaak het na sy verskyning as plaasvervanger in Augustus.[3][44][45] Hy het gedurende die jaar met 106 plekke opgeskuif tot 4de plek op die ranglys van die IKR.[3][44]
In Desember 2019 is Labuschagne in Australië se eendaggroep aangewys vir hul 2020 toer na Indië.[46] Hy het op 14 Januarie sy buiging in eendagkrieket gemaak; Australië het die wedstryd met tien paaltjies gewen, terwyl Labuschagne nie in die wedstryd gekolf of geboul het nie.[47] Hy het die oorblywende twee eendagwedstryde van die reeks gespeel en in die derde wedstryd sy eerste vyftigtal behaal.[48]
Nadat hy behou is in die span vir hul toer na Suid-Afrika het hy sy eerste honderdtal in eendagwedstryde in Maart behaal, met 103 lopies in Potchefstroom, naby sy tuisdorp.[49] In April 2020 het Krieket Australië 'n sentrale kontrak aan Labuschagne toegeken voor die aanvang van die 2020–21 seisoen.[50][51] Op 16 Julie 2020 is Labuschagne aangewys as deel van 'n preliminêre groep wat sou begin voorberei vir 'n moontlike toer na Engeland.[52][53] Op 14 Augustus 2020 het Krieket Australië bevestig dat die wedstryde sou plaasvind, met Labuschagne wat ingesluit is in die toergroep.[54][55] [56] Hy het onder meer tydens die Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023 en die Krieketwêreldbeker 2023 vir Australië gespeel.
Labuschagne is in 'n Christelike huishouding grootgemaak en het hom op 17-jarige leeftyd toegewy aan die geloof. Oor sy geloof sê Labuschagne: "Sport is 'n wispelturige spel en beserings speel 'n groot rol. In die groter skema van dinge, is dit wat jy werd is, .... nie daar buite nie; dit is interne saak en 'n saak van jou geloof in Christus … krieket sal altyd wisselvallig wees, en as jy Jesus Christus as 'n konstante teenwoordigheid in jou lewe het, maak dit die lewe baie makliker."[57]
Labuschagne is in 2017 getroud met sy vrou, Rebekah.[58]