Louis Michel Thibault
Portret van Louis Michel Thibault deur lady Anne Barnard
Gebore(1750-09-29)29 September 1750
Picquigny, naby Amiens, Pikardië Frankryk
Sterf15 November 1815 (op 65)
NasionaliteitFrans-Suid-Afrikaans
BeroepArgitek en ingenieur
Handtekening

Louis Michel Thibault (Picquigny, naby Amiens, Frankryk, 28 of 29 September 1750Kaapstad, 3, 4 of 15 November 1815) was ’n ingenieur en die eerste opgeleide argitek aan die Kaap wat meestal geboue in die Suidwes-Kaap ontwerp en ’n kenmerkende neo-klassisisme uit sy geboorteland met hom saamgebring het.

Jeug en opleiding

[wysig | wysig bron]
Die ou polisiekantoor in Waalstraat, omstreeks 1840 geskilder deur Johannes Poortermans. Thibault het omstreeks 1786 in dié huis kom woon nadat dit voorheen aan die Brand-familie behoort het. Dis in die eerste helfte van die 1980's gesloop.
Die ou polisiekantoor in Waalstraat is voor 1840 opgerig en omstreeks 1983 gesloop. Thibault het dit omstreeks 1786 betrek, waarna Anton Anreith waarskynlik die reliëfwerk aan die pediment by die dakkamer aangebring het. Dis verwyder lank voor die gebou afgebreek is.
De Papenboom, Dirk van Reenen se woning in Nuweland gegrond op Petit Trianon by Versailles, was een van Thibault se eerste ontwerpe aan die Kaap. Dit het in die 1830's afgebrand.
Rust-en-Vreugd (opgerig in 1778) is, volgens Desirée Picton-Seymour, ’n toonbeeld van die indrukwekkende vooruitgang in Kaapse argitektuur danksy Thibault se koms hierheen "’n ruk vantevore",[1] maar in werklikheid het Thibault eers in 1783 na die Kaap gekom. Jose Burman meen Anton Anreith was heel moontlik verantwoordelik vir die dekoratiewe boligte, wat sy reken later bygevoeg is, maar noem nie Thibault se naam in verband met die huis nie.[2]
Die opstal Uitkyk by Stellenbosch is in 1788 ombou tot 'n verdiepingwoning, moontlik met die samewerking van Thibault sowel as Anreith.
Die dwarsmuur in die middel van die Kasteel die Goeie Hoop is in die 1690’s gebou om die Kasteel inwendig te versterk. Dit is van 1786 tot 1790 in sy huidige vorm herbou toe Thibault die plan geteken het vir die De Kat-balkon en Anreith vir die reliëf- en beeldhouwerk verantwoordelik was.
Uitkyk, Stellenbosch, opgemeet deur B.W. Middleton en oorgeteken deur John Fassler vir prof. Geoffrey Pearse se boek Eighteenth Century Architecture in South Africa.
Die ou Saasveld-woning (1791) in Kloofstraat bo die Kaapse middestad. Thibault was bes moontlik die argitek met versierings deur Anreith.[3]
Koopmans-de Wet-huis, Kaapstad, is in 1701 opgerig, maar het sy statige voorkoms eers in 1795 gekry toe, volgens sommige kenners, die bekende Louis Thibault en Anton Anreith die front daarvan in sy huidige vorm gebou het,[4] hoewel geen bron dit kan bevestig nie.[5]
Die waghuis by 'n ingang na die Kompanjiestuin in Kaapstad is omstreeks 1791 volgens Thibault se plan opgerig, maar intussen gesloop.
Die Hurling-swaaipomp (wat nog bestaan), moontlik ontwerp deur Thibault met versierings deur Anreith, is in die 1790's op die plaas Zorgvliet van J.F. Hurling opgerig.[6]
Die Drostdy op Graaff-Reinet is van 1801–'1806 volgens Thibault se plan opgerig. Dis in ’n H-vorm ontwerp. Tot 1847 het dit as Drostdy gedien, maar van 1876 is dit byna onafgebroke ’n hotel. Dis laat in die 20ste eeu grondig gerestoureer en weer omstreeks 2013, toe dié foto geneem is.[7]
Die skouburg op Hottentotplein (nou die NG kerk St. Stephen's op Riebeeckplein) toon beliste Thibault-kenmerke, hoewel dit onseker is of hy wel die argitek was. H.C. de Meillon het dié waterverfskildery omstreeks 1830 gemaak.
Drie prominente Kaapse Vrymesselaars het gewerk aan die Losie De Goede Hoop (1803): Thibault as argitek, Schutte as bouaannemer en Anreith as beeldhouer. Dié foto is in 1875 geneem. Anreith se vier standbeeld binne-in die tempel het verlore gegaan toe 'n brand die gebou in 1892 in puin lê, maar drie ander is wel gered. Die losie is herstel.[8]
Die landhuis Vredenhof, Paarl, wat Thibault moontlik ontwerp het omstreeks 1800. Arthur Elliott het dié foto sowat 110 jaar later geneem.
Thibault se ontwerpskets van die Drostdy op Graaff-Reinet.
Thibault se skets vir die Vrymesselaarslosie De Goede Hoop, 1803.
Die Leeuepoort in Goewermentslaan, Kaapstad, is in 1803 opgerig volgens Thibault se plan en met beeldhouwerk deur Anreith.
Die ou weeshuis in Langstraat waarin die Suid-Afrikaanse Kollege begin is. Die SA Kinderhuis het in 1923 na die voorstad Tuine verhuis.[9] Mettertyd is die gebou so ingrypend verander dat net fragmente van die oorspronklike oorgebly het. Ná vergeefse pogings om selfs net die fasade te herbou, is alle bousels op die perseel in November 1981 gesloop.[10]
Die Ou Slawelosie in Adderleystraat, Kaapstad, was later die hooggeregshof en is nou die Kultuurhistoriese Museum. Dié foto, van die fasade aan Adderleystraat se kant, is omstreeks 1925 geneem, voor 13 m aan dié kant van die gebou in 1926 afgebreek is om die straat te verbreed.
Thibault het drie drosdye ontwerp, onder meer dié een op Tulbagh. Dié litografie is deur Burchell.
Ballotina, geleë by Kerkstraat 43, Tulbagh, is omstreeks 1815 gebou vir die weduwee van ds. H.W. Ballot. Sy was verwant aan Thibault; daarom is dit moontlik dat hy die argitek was.[11]
Thibault se skets vir die graanskuur in Kaapstad (1814), een van sy laaste ontwerpe.
Thinault het hom ook as kartograaf onderskei. Dié kaart van die Kaap het hy in 1791 geteken.

Min is oor sy jeugjare bekend, maar hy was in 1775, en waarskynlik reeds in 1774, student aan die Academie Royale d'Architecture in Parys. Van hierdie beroemde instelling was Ange-Jacques Gabriel, die grootste Franse argitek van sy tyd, tot 1775 die direkteur. In dié jaar word hy opgevolg deur Richard Migne. Thibault moes een van die akademie se briljantste studente gewees het, volgens sy eie mededeling selfs die beste. In Januarie 1775, en weer in Maart, wen hy die akademie se prysvraag vir ontwerp. Op 21 September 1776 het hom die eer te beurt geval om 'n terracotta-model van 'n "Franse orde van argitektuur", drie Korinthiese suile op 'n driehoekige grondplan deur hom in 1774 saam met 'n onbekende kollega ontwerp, aan koning Lodewyk XVI aan te bied.

Vroeë loopbaan

[wysig | wysig bron]

Thibault het waarskynlik nooit in Frankryk as argitek gepraktiseer nie, en is ná sy studie as genie-offisier opgelei. L.M.J.O. Degrandpré skryf van hom dat hy in die Corps des Ponts et Chaussées de France opgelei is; in 1781 bestudeer hy die militêre ingenieurswese op koste van kol. Charles Daniel de Meuron, bevelvoerder van 'n regiment Switserse huursoldate uit Neuchâtel, en nog dieselfde jaar sluit hy as luitenant by dié regiment aan. In 1782 was De Meuron se regiment een van die baie groepe huursoldate wat deur die VOC vir die verdediging van die Kaap gehuur is.

Na die Kaap

[wysig | wysig bron]

Thibault kom in 1783 aan in die land wat hy nooit weer sou verlaat nie. Die belowende jong argitek was 'n Vrymesselaar. Die Vrymesselaarsbeweging is in die Frankryk van Lodewyk XVI sterk afgekeur en moontlik was dit die rede vir sy vertrek uit die land waar 'n suksesvolle loopbaan vir hom verseker sou gewees het. Reeds in 1785 verlaat hy De Meuron se regiment om as luitenant-ingenieur in Kompanjies-diens te tree, waar hy in 1788 tot kaptein-luitenant-ingenieur bevorder word. Hierdie stap staan waarskynlik in verband met sy huwelik op 2 April 1786 met Elisabeth van Schoor (25 Februarie 175311 Junie 1820), 'n dogter van Evert van Schoor, lid van die burgerraad, en 'n niggie van Adriaan van Schoor, landdros van Stellenbosch van 1748 tot 1763.

Opgang in Kaapstad

[wysig | wysig bron]

Die Switserse regiment vertrek in 1788 sonder Thibault na Ceylon. In 1786 word aan hom en kaptein-ingenieur Sebastiaan Willem van de Graaff, seun van die goewerneur C. Jacob van de Graaff, as hoogste genie-offisiere die toesig oor die Kompanjies-geboue toevertrou. Dit is bekend dat hy byvoorbeeld die provoostronk ontwerp het. In 1787 word aan hom deur die goewerneur die leiding van die militêre akademie vir artilleriekadette in Kaapstad opgedra. Toe die VOC in 1795 sy onroerende goed aan die Britse owerheid oorgee, verskyn bokant die handtekening van Thibault dié van die majoor van die artillerie, Georg Conrad Küchler, wat later die Paarlse kerk sou ontwerp.

Dit is betekenisvol dat Thibault in hierdie tyd reeds 'n florerende private praktyk as argitek opgebou het, terwyl beroepsargitekte voorheen vrywel onbekend was aan die Kaap. In Nederland is bowendien van sy hand 'n ontwerptekening (c. 1788) vir uitbreidings aan die goewerneurswoning gevind, asook 'n pragtige tekening (1791) van die bo-ent van die Heerengracht en die ingang tot die Kompanjiestuin. Die tekening van die Heerengracht is deur hom aan sy "vriend" Sebastiaan Willem van de Graaff opgedra en vertoon ook 'n waghuisie wat hy gebou het en twee bouwerke wat volgens die styl ook sy werk kon gewees het. Blykbaar was Thibault dus die vernaamste argitek was van die boulustige goewerneur Van de Graaff, wat, nes sy seun, kennis van die boukuns gehad het.

Eerste Britse besetting

[wysig | wysig bron]

Nadat Van de Graaff in 1791 teruggeroep is, kom die VOC se boubedrywighede byna tot stilstand. As gevolg van die eerste Britse besetting in 1795 verloor Thibault sy amp, maar hy wen goewerneur J. H. Craig se guns deur aan hom sy versameling landkaarte beskikbaar te stel. Hy wys die aanbod van die pos koninklike aardrykskundige ingenieur aan die Kaap van die hand aangesien dit op daardie tydstip 'n "inbreuk op die goeie maniere" sou wees. Ook met die waarnemende goewerneur, Francis Dundas, handhaaf Thibault 'n goeie verstandhouding. Dundas beskou hom as 'n middelmatige militêre ingenieur, maar 'n nuttige, kunssinnige argitek, en bied aan hom in 1799 die leiding van en toesig oor herstelwerksaamhede aan die geboue van die garnisoen. Hierdie keer aanvaar hy die aanbod van sy nuwe meesters, volgens hom omdat hy ondanks sy belangrike dienste vyf jaar lank vir promosie oor die hoof gesien is, en hy daarna weens die verlies van sy betrekking aansienlike skade sou gely het.

Met sir George Yonge wat in 1799 aankom, kom hy minder goed klaar. Yonge lê beslag op party van sy landkaarte en die tussenkoms van Dundas is nodig om hulle aan Thibault terug te besorg. In 1801 word hierdie ongeliefde goewerneur teruggeroep; tot die teruggawe van die Kaap aan die Bataafse republiek in 1803 neem Dundas weer as goewerneur waar en lewe Thibault in vrede met die owerheid.

Bataafse bewind

[wysig | wysig bron]

Ná die oordrag verloor hy weer outomaties sy pos, sonder om egter in onguns te val. Kommissaris-generaal J.A. de Mist, self 'n Vrymesselaar, neem in 1803 die opening waar van die Vrymesselaarslosie De Goede Hoop, waarvan Thibault die ere-argitek was. Bowendien kry hy, ook nog in 1803, eindelik die erkenning waarop hy al so lank gewag het, toe De Mist hom aanstel as inspekteur-generaal van burgerlike en militêre geboue. Voortaan sou hy feitlik elke belangrike regeringsgebou aan die Kaap ontwerp.

Tweede Britse besetting

[wysig | wysig bron]

By die tweede Britse besetting aan die Kaap in Januarie 1806 verloor Thibault, wat genl. J.W. Janssens in die veldtog teen die Britte vergesel het, weer tydelik sy amp. Hy word selfs as krygsgevangene byna gedeporteer. Maar reeds in April 1806 word hy deur genl. sir David Baird in sy amp as inspekteur van openbare geboue herstel. Ook word hy in 1807 as beëdigde landmeter erken, terwyl hy in 1811 staatslandmeter word. In 1813 tree hy as raadgewer op by die voorbereiding van die Vrymesselaars se tegniese en kunskollege, wat in 1815 geopen word met die beeldhouer Anton Anreith, wat in so baie van Thibault se projekte saamwerk, as die hoof.

Die laaste paar jare van sy lewe hou Thibault hom meer met die landmetery besig as met die boukuns, veral na die koms van lord Charles Somerset, wie se "gesellige" smaak geheel en al verskil van die klassisisme van Thibault. Gevolglik kry hy geen amptelike opdragte meer nie en Somerset veronagsaam hom selfs as inspekteur. So moet hy die weg van Kaapstad na Simonstad opmeet, wat hom soms maande van sy huis af weghou. Volgens die register van sterfgevalle is hy op 4 November 1815 oorlede, maar volgens sy grafskrif en die NG Kerkargief op 3 November. Hy laat 'n wedudwee en twee ongetroude dogters brandarm agter in hul huis in die Keizersgracht (Darlingstraat). Die derde dogter trou in 1814 met die Ierse luit. John Humphreys, terwyl Thibault se enigste seun vroeg sterf. In 'n versoekskrif aan Somerset om geldelike bystand wyt die weduwee haar man se dood aan die maande lange landmetery in dikwels ongunstige omstandighede. Thibault is bygelê in 'n eenvoudige Vrymesselaars-grafkelder, waarskynlik deur homself ontwerp, in die Somersetweg-kerkhof. Die grafkelder is later gesloop en Thibault se stoflike oorskot kan nie opgespoor word nie. Ook die grafplaat met opskrif het verdwyn.

Sy argitektoniese bydra

[wysig | wysig bron]

Toe Thibault in die Kaap aankom, tref hy 'n boustyl aan met 'n baie besonderse karakter, geskep deur naamlose bouers; vandag word dit die Kaaps-Hollandse boustyl genoem. Sy boustyl het uiteraard baie min daarby aangesluit omdat hy opgelei is in die Franse neo-klassisisme van die laat 18de eeu, van die tydperk van Lodewyk XVI, waarvan sy leermeester, Gabriel, die groot vertolker was. Hierdie klassisisme was 'n sterk reaksie op die barok en sy uitloper, die rococo. En dit was nou juis die barok, sterker in Nederland en Duitsland as wat dit ooit in Frankryk was, wat ook die agttiende-eeuse boukuns aan die Kaap oorheers het, hoewel klassisistiese invloede daar reeds lank voor Thibault se aankoms merkbaar was.

In gevalle waar Thibault wel probeer aansluit by die plaaslike volkstyl, dwing hy dan ook sy klassieke vormgewing daarop af. Die volgende is 'n opgawe van die bouwerke wat met redelike sekerheid aan hom toegeskryf kan word:

Sy geaardheid

[wysig | wysig bron]

Hans Fransen, indertyd kurator van die Stellenbosse Museum, skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek: "Van voorkoms sowel as temperament was Thibault 'n tipiese Fransman: klein van postuur, met skerp, intelligente gelaatstrekke, opvlieënd en aggressief van geaardheid, soos ook uit sy briewe blyk. Hoewel geen owerheid vir hom heilig was nie, het sy onmiskenbare talente, sy intelligensie en sy werkywer hom gewoonlik van onguns gered. Tog is dit moeilik om aan te neem dat hy, naas sy taktloosheid, nie ook 'n groot persoonlike sjarme gehad het nie. As kunstenaar was hy die teenoorgestelde van Anton Anreith, sy getroue medewerker: altyd intellektueel, hoewel soms met 'n sekere speelsheid; die akademikus-kunstenaar, teenoor Anreith, die aardse ambagsman-kunstenaar. Dat hierdie twee se werke mekaar tog so treffend aanvul, is een van die wondere van die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis."

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Picton-Seymour, Désirée. 1989. Historical buildings in South Africa. Cape Town: Struikhof Publishers.
  2. (en) Burman, Jose in Potgieter, D.J. 1975. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.
  3. (en) Beskrywing van die gedenkmuseum op die Hugenotevereniging van Suid-Afrika se webtuiste Geargiveer 20 Mei 2016 op Wayback Machine. URL besoek op 14 Mei 2016.
  4. (en) Picton-Seymour, Désirée. 1989. Historical buildings in South Africa. Cape Town: Struikhof Publishers.
  5. (en) Richardson, Deirdré. 2001. Historic sites of South Africa. Cape Town: Struik.
  6. (af) Besonderhede van die swaaipomp op die webtuiste Artefacts.co.za. URl besoek op 16 Mei 2016.
  7. (en) Richardson, Deirdré. 2001. Historic sites of South Africa. Cape Town: Struik.
  8. (en) Picton-Seymour, Désirée. 1989. Historical buildings in South Africa. Cape Town: Struikhof Publishers.
  9. (en) Geskiedenis van die SA Kinderhuis. URL besoek op 8 Mei 2016.
  10. (en) "The South African Orphan House, lost but not forgotten", deur David van den Heever, in Vassa Journal, 5 Junie 2001. URL besoek op 14 Mei 2016.
  11. (af) Jordaan, Rosette en Theron, Suzanne. 1993. N.G. Gemeente Tulbagh 1743–1993. Tulbagh: NG kerkraad.
  12. (en) Picton-Seymour, Désirée. 1989. Historical buildings in South Africa. Cape Town: Struikhof Publishers.
  13. (en) Stewart Harris op Flickr.com. URL besoek op 14 Mei 2016.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]