Jackie Nagtegaal is ’n Suid-Afrikaanse skrywer en is op 8 Julie 1984 in Potchefstroom gebore as die jongste van twee kinders.
Sy het 'n ouer broer, Jan-Jan. Haar ma is Reinet Nagtegaal, ook 'n bekende skrywer,[1] en haar pa is Dirk Nagtegaal, 'n prokureur.[2] Jackie leer loop op Jeffreysbaai en Cape St. Francis[3] en die gesin woon daarna lank in Pretoria, waar sy skoolgaan aan die Laerskool Monumentpark en vanaf graad vier aan Crawford College. In 1999 trek sy na Melkbosstrand en gaan skool by die Parklands College in Bloubergstrand, waarna sy in 2002 matrikuleer aan die Vineyard Private School op Stellenbosch.[4] Sy is een van net nege leerlinge en neem Afrikaans, Engels, Kuns, Geskiedenis, Bedryfsekonomie en Wiskunde.[5] In hierdie tyd bly sy in 'n woonstel op Stellenbosch. Daarna skryf sy in 2003 in vir 'n B.A.-graad by die Universiteit Stellenbosch met Filosofie, Politiek en Afrikaans-Nederlands as vakke, maar staak haar studies om voltyds te skryf. In 2004 begin sy met reg studies aan die Universiteit van Kaapstad, wat sy later aan die Universiteit van Stellenbosch voortsit en in 2006 'n LL.B.-graad behaal. Hierna word sy as advokaat tot die Kaapse Balie toegelaat. Sy word aangestel as uitvoerende direkteur van Lipco,[6] die groep wat haar ouers op die been gebring het. Een van die filiale van Lipco is Joho Uitgewers (eers Genugtig!-Uitgewers). Die Lipco-groep word die grootste organisasie vir bemiddeling van geskille in Suid-Afrika en sy word in Januarie 2007 saam met haar broer aangestel as mede-besturende direkteur.
Sy is een van die eerstes wat trou ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse wat huwelike tussen gay-paartjies wettig, wanneer sy en Vera van der Merwe op 1 Desember 2006 op Melkbosstrand afhaak. Die egpaar gaan kort na afloop van hulle wittebrood in Meksiko[7] na 'n fertiliteitskliniek waar hulle 'n spermskenker uitkies en gelyktydig swanger raak.[8] Jackie verloor egter haar baba deur 'n miskraam, maar Vera se seuntjie[9] Dirkie[10] word in 2007 gebore.[11] Teen die einde van 2009 is Jackie weer swanger[12] en Anna Finn Nagtegaal[13] word op 4 Oktober 2010 in Kaapstad gebore. Saam stig Jackie en Vera in 2005 die afdeling Her Law binne Lipco, wat spesialiseer in vroueregte en hulle publiseer ook die regsboek, “Her law: Making the law work for you”, wat in 2007 gepubliseer word. In 2006 genoodsaak die groei by Joho Uitgewers dat sy en Vera, saam met Bev Maritz, die bestuur van hierdie maatskappy voltyds oorneem. Teen die einde van 2010 word die uitgewery gesluit. Sy is steeds saam met haar broer mede-besturende direkteur van Lipco Law for All, 'n regshulpdiens vir diegene wat nie normaalweg regskoste kan bekostig nie en deur 'n maandelikse paaiement hierdie dienste kan benut wanneer nodig. Sy is ook in Januarie 2015 die stigter van The African School of Mediation, wat opleiding verskaf aan bemiddelaars vir die oplos van geskille.
Sy skryf[14] al vandat sy in graad drie is en voltooi “Daar’s vis in die punch”[15][16] voor haar sestiende verjaarsdag.[17] Hierdie boek bevat volgens eie erkenning baie outobiografiese elemente en beeld die lewe van 'n moderne, ryk tiener uit.[18] Charlie Koekemoer is in graad elf en 'n leerling aan 'n privaat skool in die Kaap.[19] Haar ouers is advokate en selde tuis. Charlie het haar eie kar sonder bestuurslisensie, verstaan seks en dwelms[20] en kuier tot in die vroeë oggendure in klubs.[21] Die skilder Frida Kahlo is haar inspirasie en sy besluit om die Kahlo-uitstalling in die Kaap te gaan soek. Hierdie soektog word ook 'n innerlike reis waarin sy tot groter insig kom oor haar eie bestaan en haar verhouding met haar ouers.[22] Die boek [23] is geskryf in 'n tussentaal tussen Engels en Afrikaans[24] en word later in volbloed-Engels vertaal as “Alternative realities”.[25] Die M.E.R.-prys en 'n KykNET-merieteprys word in 2003 aan “Daar’s vis in die punch” toegeken. Die boek word ook tot verhoogdrama verwerk en in 2006 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer.
“In limbo”[26][27] (wat sy saam met haar ma skryf) is die verhaal van 'n ma en dogter wat albei alkoholiste is en beskryf die probleme wat hulle op die lewenspad ervaar.[28] Die ma is lewensmentor en die dogter is 'n sekslustige entrepreneur wat praatjies hou oor straatkinders. Reinet se bydrae is om die ma se karakter weer te gee, terwyl Jackie uit die perspektief van die kind skryf.[29]