Deel van ’n reeks oor |
Menslike groei en ontwikkeling |
---|
Stadiums |
Sigoot • Embrio • Fetus • Baba • Peuter • Kind • Adolessent • Volwassene |
Biologiese mylpale |
Bevrugting • Swangerskap • Geboorte • Taalverwerwing • Puberteit • Menopouse • Veroudering • Dood |
Ontwikkeling en menslike sielkunde |
Kind • Volwassenheid • Moraal |
’n Fetus is die ongebore vrug van ’n dier wat uit ’n embrio ontwikkel.[1] Ná die ontwikkeling van die embrio begin die stadium van fetusontwikkeling – by mense is dit die negende week ná bevrugting. Dit duur voort tot met die geboorte.[2]
Voorgeboortelike ontwikkeling is aaneenlopend, met geen definitiewe eienskap wat ’n fetus van ’n embrio onderskei nie. ’n Fetus word egter gekenmerk deur die teenwoordigheid van al die belangrike organe, hoewel hulle nie ten volle ontwikkel is of op die regte anatomiese plekke voorkom nie.
By mense begin die fetusstadium nege weke ná bevrugting.[3] Aan die begin daarvan is die fetus gewoonlik sowat 30 mm lank en weeg dit sowat 8 g.[3] Die kop maak feitlik die helfte van die fetus uit.[4] Asemhalingsagtige bewegings van die fetus is nodig om longontwikkeling te stimuleer, eerder as om suurstof in te neem.[5]
Die hart, hande, voete, brein en ander organe is teenwoordig, maar is nog aan die begin van die ontwikkelingstadium.[6][7] Die geslagsdele van die fetus begin vorm en die plasenta werk teen week 9 ten volle.[8]
In hierdie stadium kom onbeheerde bewegings en rukkings voor terwyl die spiere, brein en bane begin ontwikkel.[9]
’n Vrou wat die eerste keer verwag, sal gewoonlik bewegings van die fetus teen 21 weke vir die eerste keer voel, terwyl vroue wat al voorheen die lewe geskenk het, dit gewoonlik teen week 20 sal voel.[10] Teen die einde van die vyfde maand is die fetus sowat 20 cm lank.
Die hoeveelheid liggaamsvet neem vinng toe. Die longe is nog nie heeltemal ontwikkel nie. Talamiese breinverbindings, wat sintuiglike toevoer bemiddel, vorm. Bene is ten volle ontwikkel, maar is nog sag en buigbaar. Yster, kalsium en fosfor raak volopper. Vingernaels bereik die einde van die vingerpunte. Fyn hare begin verdwyn totdat dit heeltemal weg is, buiten aan die boarms en skouers. Klein borsknoppies is by albei geslagte teenwoordig. Hare op die kop raak growwer en dikker.
Die geboorte is op hande en gebeur teen die 38ste week ná bevrugting. Die fetus is gereed om gebore te word tussen 36 en 40 weke, wanneer dit genoeg ontwikkel het om buite die baarmoeder te oorleef.[12] Dit kan by geboorte 48 tot 53 cm lank wees. Beheer oor bewegings is beperk met geboorte, en doelgerigte willekeurige bewegings ontwikkel tot tydens puberteit.[13][14]
Daar is baie variasies in die groei van die fetus. Wanneer die fetus se grootte kleiner is as wat verwag word, kan dit verskeie oorsake hê, soos moederlik, plasentaal of fetaal.[15]
Fetusgroei word dikwels geklassifiseer as klein, gepas en groot vir swangerskapsouderdom.[16] Eersgenoemde kan daartoe lei dat die baba met geboorte ondergewig is en dit verhoog die risiko vir sterfte kort ná geboorte, versmoring, hipotermie, polisitemie, hipokalsemie, immuniteitsdisfunksie, neurologiese abnormaliteite en ander gesondheidprobleme op lang termyn.
Oor fetale pyn[17] en die bestaan en implikasies daarvan word gedebatteer in politieke en akademiese kringe. Volgens ’n oorsig wat in 2005 gepubliseer is, is getuienis oor die vermoë van fetale pyn beperk, maar dit dui daarop dat die fetus se waarneming van pyn onwaarskynlik is voor die derde trimester.[18][19] Die waarneming van pyn behels sintuiglike, emosionele en kognitiewe faktore, en dit is "onmoontlik om te weet" wanneer pyn ervaar word.[20]
Sommige skrywers[21] meen fetale pyn is moontlik van die tweede helfte van die swangerskap af: “Die beskikbare wetenskaplike bewyse maak dit moontlik, selfs waarskynlik, dat fetale pynwaarneming ’n lang ruk voor die laat swangerskap voorkom,” skryf K.J.S. Anand in die tydskrif van die Internasionale Vereniging vir die Studie van Pyn.[22]
Of ’n fetus die vermoë het om pyn en lyding te voel, is deel van die aborsiedebat.[23][24] Aborsies is in die meeste land wettig en/of word geduld, hoewel dit laat in die swangerskap gewoonlik onwettig is.[25]