Cintaine Schutte
Geboorte 8 Julie 1987 (1987-07-08) (36 jaar oud)
Pretoria
Nasionaliteit Suid-Afrika
Beroep(e) Aktrise
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Cintaine Schutte (gebore 8 Julie 1987 in Pretoria) is 'n Suid-Afrikaanse aktrise en vervaardiger wat veral bekend is vir haar rol in die kykNET-reeks, Fynskrif (2018), die komediereeks Phil 101, die rolprente Hum (2016) en Knysna (2014). Aanvanklik wou Cintaine 'n oorbruggingsjaar na haar skoolloopbaan doen, maar danksy haar dramaonderwyser, wat haar potensiaal met haar ouers gaan bespreek het, het sy daarteen besluit en ingeskryf vir BA Drama vir die volgende jaar. Cintaine se ma het haar van kleins af geleer om dinge in haar omgewing te waar te neem, iets waarvoor sy vandag dankbaar is vir haar beroep as aktrise.

Sy het haar BA-honneursgraad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Haar honneursgraad het sy in toneelspel gedoen, wat behels het dat sy saam met die vierdejaarstudente op die verhoog kon speel as deel van haar studies se praktiese module. Ná haar studies het sy haar eerste professionele teaterproduksie bekom deur ʼn kennis, Tara Notcutt, wat sy by die Universiteit van Kaapstad ontmoet het.

Saam met ander vriende het sy en Notcutt 'n daadwerklike poging aangewend om jongmense by die teater te kry, deur meer relevante en tydsgebonde verhoogproduksies op die planke te bring.

Christiaan Olwagen en Saartjie Botha het Schutte genader om in die toneelstuk Die Seemeeu, oorspronklik geskryf deur Anton Chekov, te speel. Nadat die verhoogproduksie gedoen is, is die rolprent Die Seemeeu daarop gebaseer en uitgebrei tot ʼn vollengtefilm, waarin sy ook gespeel het.

Schutte is 'n gebalanseerde aktrise wat haar kuns uitleef in film en op die verhoog, maar nadat sy besef het dat sy nog net Seemeeu en Half Leeg as professionele produksies agter haar naam gehad het, het sy besluit om haar eie werk te begin vervaardig. Haar eerste toneelstuk, Huishou, het as gevolg hiervan op die planke gekom.

Schutte het ook twee verskillende rolle vertolk in die misdaadreeks, Die Boland Moorde in 2013 en 2017. In 2018 het sy die rol van die naïewe karakter, Michelle, vertolk in die komediereeks, Die Kasteel.  

In 2015 het sy ʼn Kanna-toekenning gekry vir haar vertoning in die toneelstuk, Moeder Moed en die daaropvolgende jaar 'n Fleur Du Cap-toekenning vir haar rol as Masha in die verhoogstuk Die Seemeeu. In 2017 ontvang Schutte 'n Woordfees-trofee vir haar toneelspel in die produksie Drif, geskryf deur Reza de Wet.

Film

Televisie

Teater

Persoonlike lewe

Cintaine is met die akteur Carel Nel getroud in 2019. Die egpaar woon in Kaapstad en albei is lief vir die stadslewe. Hulle het die gevoel van hul troue daarvolgens beplan.

Toekennings

Bronnelys