Deel van ’n reeks oor |
Oosterse Ortodoksie |
---|
Geskiedenis |
Oosters-Ortodokse Kerk Nicea I • Konstantinopel I • Efese • Chalcedon • Konstantinopel II • Konstantinopel III • Nicea II |
Oosters-Ortodokse kerke |
Ekumeniese Patriargaat van Konstantinopel Grieks-Ortodokse Kerk van Alexandrië Grieks-Ortodokse Kerk van Antiogië Grieks-Ortodokse Patriargaat van Jerusalem Russies-Ortodokse Kerk Georgies-Ortodokse en Apostoliese Kerk Serwies-Ortodokse Kerk Roemeens-Ortodokse Kerk Bulgaars-Ortodokse Kerk Kerk van Siprus Kerk van Griekeland Pools-Ortodokse Kerk Ortodokse Kerk van Albanië Ortodokse Kerk van Tsjeggië en Slowakye (Ortodokse Kerk in Amerika) |
Geloof |
Askese • Diofisitisme • Eerste onder gelykes • Heilige liturgie • Ikonografie • Jesusgebed • Kruisteken • Miafisitisme • Monofisitisme • Monoteletisme • Nestorianisme • Raskolniki • Teose • Teotokos |
Askese (van die Griekse ἄσκησις: áskēsis, "oefening") beskryf ’n lewe wat gekenmerk word deur onthouding aan verskeie wêreldlike plesiere, dikwels met die doel om godsdienstige of spirituele doeleindes na te streef. Askese kan saamgaan met selfkastyding, maar nie noodwendig nie.
Die Griekse byvoeglike naamwoord askēsis beteken "oefening". Die oorspronklike gebruik daarvan het nie op selfonthouding gedui nie, maar op fisieke oefening vir atletiese byeenkomste. Die betekenis is later uitgebrei om te beteken die beheersing of onderdrukking van natuurlike behoeftes om die een of ander vorm van reinheid te bereik. Vas en seksuele onthouding is twee vorms van askese. Dit word in die meeste godsdienste in die een of ander graad toegepas.[1]
Die vroeë 20ste-eeuse sosioloog Max Weber het ’n onderskeid gemaak tussen innerwêreldlike en uiterwêreldlike askese. Eersgenoemde is wanneer iemand hom aan die wêreld onttrek om ’n asketiese lewe te lei, soos monnike in ’n klooster sowel as hermiete, wat alleen woon. Uiterwêreldlike askese verwys na mense wat ’n asketiese lewe lei, maar hulle nie aan die wêreld onttrek nie.[2]
Die doel van askese verskil. Dit kan ’n vorm van boetedoening wees, ’n offer aan ’n godheid, ’n middel tot dissipline vir ’n geestelike lewe of om verdienste te verwerf vir die hiernamaals. Dit kan ook wees omdat die beoefenaar daarvan sy liggaam of die lewe self waardeloos ag en eerder sou verkies om te sterf weens ’n onthouding aan kos en vloeistof.
Die 20ste-eeuse Amerikaanse psigoliese teoretikus David McClelland het gemeen buitewêreldlike askese is spesifiek gerig teen wêreldlike plesiere wat mense se aandag aflei van hul roeping en dat sulke mense wêreldlike plesier kan beoefen wat nie hul aandag aflei nie. As voorbeeld het hy Kwakers genoem, wat histories teen die dra van helderkleurige klere was, maar ryk Kwakers het dikwels hul somber klere van duur materiaal gemaak. Die kleure is as afleidend beskou, maar nie die materiaal nie. Amiese Doopsgesindes gebruik soortgelyke kriteria om te besluit watter moderne tegnologie om te gebruik en watter nie.[3]