Ciudad Autónoma de
Buenos Aires
Outonome Stad Buenos Aires

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Argentinië Argentinië
 Koördinate 34°36′S 58°23′W / 34.600°S 58.383°W / -34.600; -58.383
 Deur Pedro de Mendoza gestig op 2 Februarie 1536
 Deur Juan de Garay gestig op 11 Junie 1580
 Oppervlakte:  
 - Totaal 203 vk km
 - Stadswyke 48
 Hoogte bo seevlak 25 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2021-skatting) 3 003 000
 - Bevolkingsdigtheid 14 793/vk km
 - Metropolitaanse Gebied 15 624 000
 - Ongeletterdheid 0,45%
 Tydsone UTC-3 (ART)
 Somertyd UTC -2 (ARST)
 Burgemeester Horacio Rodríguez
Larreta (PRO)
 Amptelike webwerf buenosaires.gob.ar

Buenos Aires (Spaans: [ˈbwenos ˈajɾes], ), amptelik Outonome Stad Buenos Aires (Ciudad Autónoma de Buenos Aires), is die hoofstad en ekonomiese, kulturele en nywerheidsentrum van Argentinië, ná Meksikostad die tweede grootste Spaanssprekende stad ter wêreld en die vierde grootste stad in die Amerikas (ná São Paulo, Meksikostad en New York),[1] met 'n bevolking van drie miljoen in die Distrito Federal (203 km²) en 15,6 miljoen in die metropolitaanse gebied (Gran Buenos Aires) met 'n oppervlakte van 4 758 km². Buenos Aires beteken “gunstige winde”, 'n ou skeepvaartterm vir winde wat voordelig is vir seilskepe.

Nasa-satellietbeeld van die Río de la Plata, met Gran Buenos Aires aan die regterkant en links bo Montevideo, Uruguay

Die stad is aan die mond van een van die grootste riviere ter wêreld, die Río de la Plata (Silwerrivier), geleë. Aangesien Gran Buenos Aires sowat 'n derde van die Argentynse bevolking en ook die meeste belangrike instellings en hoofkwartiere van ondernemings huisves, oorheers sy ekonomie die res van die land.

Danksy talle winkels en boetieks, sy pragtige argitektuur, 'n ryk kulturele lewe, uitstekende restaurante en kosmopolitiese bevolking van oorwegend Italiaanse, Spaanse, Franse, Duitse, Engelse, Oos-Europese, Arabiese en Asiatiese herkoms staan Buenos Aires ook as die Parys van die Suide bekend. Die stad is een van die mees Europese van Suid-Amerika en ook die Suidelike Halfrond en het sy Goue Era in die tydperk tussen 1880 en 1920 beleef, toe Argentinië danksy ongekende ekonomiese groei tot een van die tien welvarendste lande wêreldwyd ontwikkel het. Buenos Aires het destyds nuwelinge uit Europa gelok wat hier 'n beter heenkome probeer vind het.

Geskiedenis

Tradisionele Europese en moderne boustyle
Buiteaansig van die Hotel de Inmigrantes in die stadsdeel Retiro. Vir honderdduisende Europese immigrante was dié gebou dekades gelede die toegangspoort tot 'n nuwe lewe in Argentinië. Dit huisves tans 'n museum

Die eerste Europese seevaarder, wat in die jaar 1516 naby Buenos Aires voet aan wal gesit het, was die Spanjaard Juan de Solís. Hy het die groot rivier, wat hy teengekom het, Mar Dulce ("Die Soet See") genoem. Twintig jaar later het Pedro de Mendoza die eerste nedersetting in die gebied gestig, Santa Maria del Buen Aire. Die jaar 1536 word gevolglik as Buenos Aires se stigtingsdatum beskou. Weens die verset van vyandelik gesinde Indiane is die Spanjaarde egter gedwing om die kolonie enkele jare later na Asunción in Paraguay te verskuif.

Die perde en beeste wat die Spanjaarde agtergelaat het, het die grondslag vir die Argentynse veeteelt gevorm, die belangrikste ekonomiese basis van die land. 'n Permanente vesting en dorp het uiteindelik in 1580 ontstaan toe 'n groep oorspronklike setlaars na die gebied teruggekeer het. Die stad het vir bykans tweehonderd jaar 'n onbenullige plek gebly, en aangesien die Spaanse regering die voorkeur aan ander hawens soos Lima gegee het, het talle bewoners 'n broodwinning uit smokkelary gemaak.

Eers met die stigting van 'n Spaanse onderkoninkryk, wat groot dele van Argentinië, Chili, Uruguay en Bolivië ingesluit het, het die Buenos Aires 'n belangrike rol as administratiewe sentrum begin speel. Snelle ekonomiese vooruitgang het plaaslike nasionalisme bevorder; die gebied het in 1810 'n selfregerende status gekry, en in 1816 het die burgers van Buenos Aires onafhanklikheid van Argentinië verklaar. Dekades lank het die plaaslike regering gesukkel om gesag oor die hele land te verkry; aanhangers van 'n federale stelsel het met lede van politieke groeperings baklei wat eerder 'n eenheidstaat verkies het.

In 1880 is Buenos Aires tot federale distrik (Distrito Federal) verklaar. Die regering van president Julio A. Roca het Europese stede, met name Parys, as voorbeeld vir die ontwikkeling van die stad geneem. Die Franse hoofstad het ook die aanleiding vir honderde nuwe geboue in Buenos Aires gegee wat volgens Paryse boustyle beplan is en aan die stad 'n Europese voorkoms gee.

Grootskaalse immigrasie uit Italië, Spanje, Duitsland, Engeland, Pole, Rusland en die Midde-Ooste en snelle ekonomiese groei het van die "Parys van Latyns-Amerika" een van die welvarendste stede wêreldwyd gemaak. Aan die begin van die 20ste eeu het die bevolking gegroei tot meer as een miljoen porteños – soos die inwoners van Buenos Aires in hul eie land bekend staan. "Ryk soos 'n Argentyn" het destyds 'n vaste begrip in Parys en ander Europese metropole geword.

Die groot Avenidas van Buenos Aires, soos die Avenidas Santa Fé, Córdoba en Corrientes, is in die dertigerjare gebou. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die stad met sy voorstede saamgesmelt en sowat een derde van Argentinië se bevolking gehuisves.

Ekonomiese en politieke teenslae na die Tweede Wêreldoorlog het Buenos Aires voorlopig van sy rol as 'n ryk stad beroof, en die teenstellings tussen die welvarende noordelike stadswyke en die bitterarm suide is steeds groot. Langsamerhand herwin die stad egter sy status as 'n lewendige metropool van 'n vooruitstrewende land. Dit was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1978.

Klimaat

Nasa-Satellietbeeld van Buenos Aires
Swaar reën en weerlig oor die Plaza San Martin. Storms is algemeen in die somer

Buenos Aires lê soos die grootste deel van Argentinië in die gematigde sone van die Suidelike Halfrond. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 17,5 °C, die gemiddelde jaarlikse reënval 1 173 millimeter.

Januarie is die warmste maand met gemiddeldes van 24,5 °C, terwyl temperature in die midwinter van Julie tot gemiddeldes van 11,1 °C daal. Die somermaande is baie warm en bedompig. Baie porteños verlaat die stad in Januarie en Februarie vir 'n vakansie aan die kus of in die berggebiede. Die wintermaande is vogtig, maar nie regtig koud nie.

Weergegewens vir Buenos Aires Sentrale Observatorium (2001–2010)
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 43,3 38,7 37,9 36,0 31,6 28,5 30,2 34,4 35,3 35,6 36,8 40,5 43,3
Gemiddelde maksimum (°C) 30,4 29,0 26,8 23,4 19,3 16,6 16,0 17,7 19,6 23,1 26,1 28,5 23,0
Gemiddelde temperatuur (°C) 25,1 23,9 22,0 18,0 14,4 11,9 11,4 12,8 14,8 18,2 20,9 23,2 18,1
Gemiddelde minimum (°C) 20,2 19,5 18,0 13,6 10,5 8,3 7,7 8,7 10,6 13,5 16,0 18,2 13,7
Laagste minimum (°C) 5,9 4,2 2,8 −2,3 −4 −5,3 −5,4 −4 −2,4 −2 1,6 3,7 −5,4
Neerslag (mm) 167,5 171,0 172,3 110,8 72,3 54,8 70,0 71,7 75,0 124,4 114,1 102,4 1 306,3
Reëndae (d) 9,5 9,0 10,0 7,9 6,6 7,1 8,0 7,7 7,9 9,9 9,9 9,1 102,6
Humiditeit (%) 65 70 72 77 78 79 79 74 71 69 68 64 72,2
Bron: Universiteit van Buenos Aires,[2] Servicio Meteorológico Nacional (humiditeit 1981–1990, uiterste 1906–huide)[3][4]

Demografie

In Puerto Madero het naas kantoorgeboue ook talle luukse woonstelle vir welgestelde kliënte ontstaan
Microcentro, die finansiële en besigheidsdistrik van Buenos Aires, huisves talle kantore van ondernemings

Tussen 1833 en 1869 het die bevolking van Buenos Aires verdriedubbel van 60 000 tot 180 000. In 1890 was Buenos Aires die grootste en belangrikste stad in Latyns-Amerika met 'n bevolking van 661 000. Danksy die groot immigrasiegolf uit Europa het die inwonertal in die volgende dekades sterk gegroei tot sowat 1,6 miljoen in 1914. Tans het die Outonome Stad Buenos Aires 'n bevolking van sowat 2,9 miljoen.

As al die voorstede in die omgewing ingereken word, is Gran Buenos Aires (Groter Buenos Aires) met 'n bevolking van 12,8 miljoen een van die megastede ter wêreld en die tweede grootste metropolitaanse gebied in Suid-Amerika na São Paulo.

Die porteños, soos die inwoners van Buenos Aires in Argentinië genoem word, is merendeels van Spaanse en Italiaanse afkoms. Daarnaas het talle immigrante uit ander Europese lande soos Duitsland, Ierland, Portugal, Frankryk en Engeland hulle hier gevestig. Siriërs, Libanese en Armeniërs het vanaf die vroeë 20ste eeu 'n belangrike rol in die handelsbedryf en openbare lewe gespeel.

Sedert die tweede helfte van die 20ste eeu het groter getalle immigrante uit ander Suid-Amerikaanse lande soos Bolivië, Peru en Paraguay hulle in Buenos Aires gevestig. In die 1990's was daar 'n klein immigrasiegolf uit Roemenië en Oekraïne.

Die Joodse gemeente in Buenos Aires is met 'n kwartmiljoen lede die grootste in Suid-Amerika. Die meeste van hulle is Asjkenasim uit Noord- en Oos-Europese lande, veral Rusland, Duitsland en Pole. Sefardiese Jode in Buenos Aires is oorwegend van Siriese afkoms.

Die eerste immigrante uit Oos-Asië was Japanners waarvan baie 'n heenkome as blommetelers of skoonmakers gevind het. Vanaf die 1970's was daar ook noemenswaardige immigrasie uit China en Korea. 'n Groot aantal klein supermarkte word tradisioneel deur Han-Chinese en Koreane bedryf.

Die persentasie nakomelinge van nie-Spaanse immigrante is in Buenos Aires aansienlik groter as in die res van Argentinië. Die oorgrote meerderheid porteños praat Spaans as huistaal en is Rooms-Katoliek. Tans is 88,9 persent van die totale bevolking blankes, 7 persent van gemengde Europees-Indiaanse afkoms, 2,1 persent Asiate en 2 persent swartes. Die ouderdomstruktuur lyk baie op dié van Europese stede: 17 persent van die bevolking is jonger as 15 jaar, maar 22 persent ouer as 60.

Twee derdes van die inwoners woon in woonstelgeboue en 30 persent in enkelgesinshuise. Vier persent kan slegs baie eenvoudige behuising bekostig, onder meer in die sogenaamde Vills miserias, soos krotbuurte plaaslik genoem word. Die belangrikste hiervan is Villa 31 in die stadsdeel Retiro. In 2007 het 8,4 persent van die bevolking in die kernstad en 20,6 persent in die metropolitaanse gebied onder die broodlyn geleef.

Bekende stadswyke (barrios)

Die Teatro Colón
Die kulturele sentrum Usina de las Artes ("Fabriek van die kunste") in die stadsdeel La Boca is in 2012 ingewy
Die Dorrego Bar in San Telmo
Die Casa Rosada
Die Milla Museos of "Museummyl" is 'n roete oor drie stadsdele wat vyftien museums met mekaar verbind – met uitstallings oor kuns, wetenskap, natuur en ander onderwerpe
Die Museo de Arte Latinoamericano de Buenos Aires (MALBA) maak deel uit van die Milla Museos

Besienswaardighede

Kuns en kultuur

Argitektuur en stadsbeeld

Die Avenida 9 de Julio met die Obelisco
Paleis van Lopende Water
Avenida de Mayo: Palacio Barolo

Die meeste argitektoniese besienswaardighede dateer uit die Goue Tydperk van Buenos Aires, die drie dekades tussen 1880 en 1910 toe Argentinië ongekende ekonomiese groei en welvaart ervaar het. As nuwe federale hoofstad was Buenos Aires destyds besig met die voorbereidings vir die land se eeufees wat in 1910 gevier is.

Die boubedrywighede van hierdie periode het die sloping van groot dele van die koloniale erfenis vereis sodat min geboue uit die vroeë geskiedenis van Buenos Aires bewaar gebly het. Kleiner oorblyfsels van koloniale boukuns kan nog in dele van Monserrat en San Telmo besigtig word.

In sy bloeitydperk het Buenos Aires dan ook nie soseer Spanje as voorbeeld geneem nie, maar eerder na Parys begin kyk waar baron Georges-Eugène Haussmann sy konsep van 'n metropool en hoofstad verwesenlik het – met breë diagonale strate, indrukwekkende geboue, parke en sigpunte met 'n estetiese visuele impak.

Stadsbeplanners het nuwe breë lane ontwerp wat die ou Spaanse straatuitleg vervang het. Die belangrikste hiervan, Avenida de Mayo, is in 1893 voltooi, en was uiters geskik om as 'n soort roete vir regeringsoptogte gedien aangesien dit die Casa Rosada of Presidensiële Paleis aan sy oostelike einde met die nuwe Kongresgebou (Congreso) in die weste verbind het. Argitekte het Beaux Arts- en Art Nouveau-geboue volgens die smaak van die tyd ontwerp wat van die Avenida de Mayo die kulturele sentrum met 'n polsende naglewe gemaak het.

Diagonal Norte en Diagonal Sur is die belangrikste lane wat diagonaal loop. Diagonal Norte is in die 1930's gebou, en aan weerskante van die laan het geboue met Neo-klassieke en Art Déco-stylelemente ontstaan. Aangesien die laan Plaza de Maya met die Presidensiële Paleis en die Tribunales-geregsgebou op die Plaza Libertad (Vryheidsplein) verbind, is die meeste geboue is met koepels versier om 'n stadshorison te skep wat 'n soort filosofiese en fisiese verbintenis tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag sou versinnebeeld.[5]

Sedert 1936 belemmer die Obelisco, wat ter geleentheid van Buenos Aires se 400-jaarfees op die Plaza de República (Republiekplein) opgerig is, die uitsig op die Tribunales. In 'n kerk op hierdie plein, die Iglesia de San Nicolás, is die ligblou-wit vlag van Argentinië op 23 Augustus 1812 vir die eerste keer gehys. Die obelisk was vir die meeste stadsbewoners aanvanklik 'n ongewilde monument, maar het intussen lankal 'n simbool van Buenos Aires geword.

Die ambisieuse argitektoniese ontwerpe vir geboue langs die Diagonal Sur is nooit verwesenlik nie, behalwe vir die Wetgewende Gebou van Buenos Aires. Daarenteen hou die Avenida de 9 Julio steeds die rekord vir die breedste straat ter wêreld. Eerste planne vir hierdie laan is reeds in 1888 geteken, maar boubedrywighede vir hierdie Avenida het eers in die 1930's begin. Die laan is stapsgewys gebou en later verbreed, maar het eintlik onvoltooid gebly nadat Frankryk geweier het om sy ambassade te verkoop. Dié gebou is 'n uitstekende voorbeeld vir die Neo-klassieke en Belle Epoque-boukuns wat plek moes maak vir die nuwe praglaan. Die hoofkwartier van die Departement van Gesondheid aan sy suidelike einde was te groot om gesloop te word so dat die Avenida daaromheen loop.

Nuwe geboue het ontstaan wat later ikoniese status sou bereik. Een van die eerstes hiervan was die "Paleis van Lopende Water" (Palacio de las Aguas Corrientes) wat in 1877 in die Avenida Córdoba in die stadsbuurt Balvanera voltooi is en die bevolking van skoon drinkwater voorsien het nadat 'n uitbreek van geelkoors, 'n dodelike virussiekte, talle menselewens in San Telmo geëis het. Welgestelde bewoners het begin om elegante villas naby die paleis te bou, en daar is besluit om die gebou in die Victoriaanse styl te herontwerp. 300 000 geglaasde bakstene is vir dié projek uit Groot-Brittanje ingevoer, terwyl die binneversierings van Belgiese oorsprong is. Toe die paleis in 1887 voltooi is, was dit 'n vroeë voorbeeld van elegante boukuns wat in die volgende dekades die stadsbeeld van Buenos Aires sou verander.

Kookkuns

Die befaamde Café Tortoni in Avenida de Mayo

Die plaaslike kookkuns steun op bief en die asado, die tradisionele Argentynse braaivleis. Die Argentiniërs eet dit een of twee keer per dag, en daar is talle soorte bife soos die bife de costilla (wat aan die Noord-Amerikaanse T-bone biefstuk herinner) en die bife de chorizo ('n soort ribstuk). 'n Oordaad worsies word bedien, byvoorbeeld die pikante chorizo, die bloedwors morcilla en die salchicha – 'n lang, dun worsie. Empanadas is die Argentynse variant van vleispasteijies wat met bief gevul en gebak of gebraai word. Tydens die ete word gewoonlik Argentynse rooiwyn geskink.

Daar is sowat 3 500 restourante en ander eetplekke in die stad. Parillas, wat tradisionele Argentynse braaivleis bedien, is een van die mees tipiese plaaslike eetplekke. Daar is egter ook talle cafés, confiterías (wat alkoholiese dranke, koffie en tee bedien), heladerías (roomyskafees), sandwicherías, wiskerías, cocktelerías en ander gewilde ontmoetplekke.

Die beste buurte vir 'n tradisionele braaivleis-ete is Costanera Norte en Puerto Madero. Die besoeker, wat die Spaans-Argentynse kookkuns waardeer, vind die beste restourante langs die Avenida de Mayo. Die mees tradisionele Italiaanse pizza's kan 'n mens in die Corrientes-straat geniet. Die Plaza Cortázar, Palermo Hollywood, Las Cañitas en Recoleta is gebiede waar die restourante hulle op die mees verfynde en eksotiese kookkuns vir die fynproewer toespits.

Die internasionale restourante in Buenos Aires is uitstekend, hoewel 'n Franse spyskaart nie noodsaaklik outentieke Franse cuisine bedoel nie – daar is altyd 'n bietjie Argentynse variasie, behalwe vir die eersterangse restourante. Die immigrante het hul eie kookkuns – eweneens met 'n sterk Argentynse invloed – hier bewaar. Naas die kos wat in Italiaanse, Sjinese, Spaanse, Duitse, Russiese en Kosjer restourante bedien word, is daar 'n verskeidenheid spesialiteite van dwarsoor die wêreld.

Argentiniërs eet baie laat, teen middernag is restourante nog steeds vol met 'n oormaat besoekers.

Internasionale verhoudings

Susterstede

Unie van Ibero-Amerikaanse Hoofstede

Buenos Aires is lid van die Unie van Ibero-Amerikaanse Hoofstede van 12 Oktober 1982 wat broederlike verhoudings met die volgende stede vorm:[15]

Vennootskappe

Verwysings

  1. (en) Verenigde Nasies (2019). "World Urbanization Prospects 2018" (PDF). Besoek op 10 Oktober 2021.
  2. (es) "Climatología de la Ciudad de Buenos Aires (OCBA)". Departemento de Ciencias de la Atmósfera y los Océanos, Universidad de Buenos Aires. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Oktober 2019. Besoek op 26 Junie 2015.
  3. (es) "Klimaatstatistieke vir Buenos Aires 1981–1990". Servicio Meteorológico Nacional. Besoek op 9 Augustus 2009.
  4. (es) "Características Climáticas Ciudad de Buenos Aires". Servicio Meteorológico web. Besoek op 22 Februarie 2013.
  5. (en) Michael Luongo: Frommer's Buenos Aires. Hoboken, NJ: Wiley Publishing 2011, bl. 15
  6. (en) "Yerevan – Twin Towns & Sister Cities". Yerevan Municipality Official Website. © 2005–2013 www.yerevan.am. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2013. Besoek op 4 November 2013.
  7. (pt) "Pesquisa de Legislação Municipal – No 14471". Prefeitura da Cidade de São Paulo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Oktober 2018. Besoek op 23 Augustus 2013.
  8. (pt) Lei Municipal de São Paulo 14471 de 2007 WikiSource
  9. (en) "Sister Cities". Beijing Municipal Government. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Januarie 2010. Besoek op 23 Junie 2009.
  10. (en) "Intercity and International Cooperation of the City of Zagreb". 2006–2009 City of Zagreb. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Julie 2017. Besoek op 23 Junie 2009.
  11. 11,0 11,1 11,2 11,3 (es) "Listado de ciudades hermanas" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 16 Julie 2011. Besoek op 26 Oktober 2010. [dooie skakel]
  12. (de) "Berlin – City Partnerships". Der Regierende Bürgermeister Berlin. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2013. Besoek op 17 September 2013.
  13. (en) "Berlin's international city relations". Berlin Mayor's Office. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2013. Besoek op 1 Julie 2009.
  14. (es) Hermanamientos con Latinoamérica Geargiveer 13 Maart 2016 op Wayback Machine (102,91 kB). [29 September 2008]
  15. (es) "Declaración de Hermanamiento múltiple y solidario de todas las Capitales de Iberoamérica (12-10-82)" (PDF). 12 Oktober 1982. Besoek op 17 Junie 2015.
  16. (fr) "Les pactes d'amitié et de coopération". Mairie de Paris. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2010. Besoek op 14 Oktober 2007.

Eksterne skakels